Tegnologie en tieners: Wat is die tekens van skermverslawing?

Bron: https://lig.co.za/tegnologie-en-tieners-tekens-van-skermverslawing/

Tegnologie en tieners: Wat is die tekens van skermverslawing? In hierdie artikel kyk ons na die gevaartekens en hoe ons tegnologie verantwoordelik kan gebruik.

Skerms, sosiale media en die wye web is só deel van ons lewe soos slaap en eet. Vir party tieners voel dit so noodsaaklik soos die lug wat hulle inasem. Tog weet ons instinktief dat tegnologie en tieners met liefde én ‘n ferm hand bestuur moet word.

Wanneer die waarskuwingstekens daar is dat ‘n kind aan sy slimfoon of tablet verslaaf is, moet ons as ouers met wysheid optree. In hierdie artikel kyk ons na wat die tekens van skermverslawing is, en hoe ons tegnologie verantwoordelik kan gebruik.

Tekens van skermverslawing

Volgens neurowetenskapkenner, dr Marlena Kruger van MindUnique Education moet ons veg vir ons kinders se digitale welwees. Daarom moet ons reageer wanneer die volgende gevaarligte rondom jou tiener en tegnologiegebruik flikker.

egnologie en tieners – tekens van skermverslawing 

  • Spandeer baie tyd en gesels meer aanlyn met virtuele vriende as werklike persone, familie of vriende.
  • Skermgebruik beperk slaap of versteur slaapgehalte.
  • Min dinge maak die persoon gelukkig, tevrede of opgewonde, behalwe skermtyd, en die person verkies skermaktiwiteit op hul eie bo uitstappies en sosiale interaksie.
  • Skerms is die bron van gereelde konflik in die huis.
  • As jou tiener skermtyd wegsteek, ontken of skelm gebruik. Weet te alle tye waarmee (en met wie) jou kind op sy of haar foon besig is. 
  • As skermtyd ’n stygende trajek toon. Hou die datagebruik op jou en jou kind se foon dop om ongesonde gebruik te identifiseer.
  • As die persoon angstig voel om die foon vir tye af te sit, tuis te los of te ignoreer.
  • As die persoon rusteloos en angstig voel wanneer daar nie gereeld na boodskappe gekyk kan word nie, as daar nie WiFi-toegang is nie, of so gou moontlik aan ’n restaurant of winkelsentrum se WiFi wil koppel. 
  • Wanneer dit moeilik is om aandag by jou dagtaak te bepaal omdat jy ’n dringende behoefte het om aandag aan jou foon te gee.
  • Wanneer buitensporig baie geld aan skerms, toepassings en data bestee word.

Tegnologie en kleuters – tekens van skermverslawing 

  • Wees op die uitkyk vir fiksering op ’n skerm wanneer dit in die omgewing is, sonder om aandag te gee aan persone of ander visuele of ouditiewe stimuli. Babas se slaap- en eetpatrone kan ook deur skermtyd beïnvloed word.
  • Uitdagende gedrag, irritasie en uitermatige weerstandigheid wanneer skermtyd ingeperk of weerhou word.
  • Speeltyd, sportdeelname en kuiertyd saam met maats word al minder.
  • Maaltye verander na peuseltyd voor skerms of die kind weier om te eet, tensy ’n skerm sy of haar aandag aflei.
  • Skerms word bo boeke, speelgoed en tyd saam met ouers en sibbe verkies.
  • Sinsnedes en woorde van skermmedia word nageboots. Hulle gebruik dikwels dié sêgoed, intonasiepatrone en mannerismes in gesprekke met ander.
  • Speel nie verbeeldingspeletjies nie, maar boots eerder grepe uit skermmedia na.
  • Probleme met maatjies, sukkel met saamspeel, of toon afknouerige gedrag.
  • Sukkel om te slaap en is angstig.
  • Impulsiewe gedrag en ’n skynbare onvermoë om te weet wanneer iets gevaarlik kan wees.

Hanteer die tameletjie van tegnologie en tieners só

Natuurlik is tegnologie nie net sleg nie, meen die kenners. Die oomblik wat enigiets egter “te” word, is dit tyd om af te skakel. Volgens Johan Koekemoer, hoof van onderrig en leer by die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum, moet die kringloop van sneller, roetine, beloning gebreek word. “Gaan toilet toe met ’n boek pleks van jou foon. Beperk WiFi-toegang tot sekere dele van die huis, asook sekere tye van die dag. Wêreldwyd lees ons al meer van skole wat selfone verban of die gebruik daarvan inperk.”

Lees hier oor die “Wag tot graad 8-veldtog”.

“Ure se gesnuffel laat ’n mens onvergenoegd en onversadig,” sê Johan. “Dit ontneem jou van outonomie oor jou denke en ry skepping en kreatiwiteit in die wiele. Ons moet opnuut na die houding, waardes en ingesteldheid van ons kinders en hul menswees kyk en ’n gesonde kultuur vestig. ’n Mes in ’n bendeleier se hand maak dood, maar in ’n chirurg se hand, red dit lewens. Dit gaan oor karakter, etiek, waardes en wêreldbeskouing,” meen Johan.

Marlena stem saam en sê ouers moet enersyds hul voet neersit oor skermtyd en andersyds toelaat dat God hul denke vernuwe en gedrag help verander. “Ons moet gehaltetyd as gesinne deurbring, sosialiseer, dieper verhoudings bou, saam speel en lag, tyd in die natuur bestee en die vreugde en kosbaarheid in die oomblik raaksien en waardeer.”

Volgens dr Kim Laxton, psigiater by die Netcare Akeso Crescent Clinic in Randburg, kan ouers nie hul kinders se skermtyd inperk sonder om self ’n goeie voorbeeld te stel nie. “Daar is wonderlike toepassings wat ’n mens baie tyd spaar, soos banktoepassings en selfs inkopieafleweringsdienste, maar daar is ’n tyd en plek vir alles. As jy in ’n restaurant of tuis onafskeidbaar van jou foon is, sal jou kinders dié voorbeeld volg.”

3 Stappe om tegnologie se baas te wees

Prof Elmari Deacon, hoof van die Skool vir Psigososiale Gedragswetenskappe aan die NWU, beveel die volgende aan:

A – Bewustheid (awareness)

Meng jou skermgebruik in met jou daaglikse aktiwiteite en hoe jy oor jouself dink of voel? Weet jy hoeveel tyd jy aanlyn spandeer? Stel jou foon (en jou kinders se fone!) om ná ’n bepaalde tyd toegang tot sekere toepassings te sluit, mits jy self dié tyd verleng. Dit sal jou bewus maak van hoeveel tyd jy aanlyn spandeer en jou in staat stel om jou kinders se blootstelling te beperk en te monitor.

B – Balans (balance)

Vind iets anders om te doen in die tyd wat jy gewoonlik (onnodig) aanlyn deurgebring het. Wees kreatief of skeppend, oefen of stap, en ontdek opnuut jou selfwaarde weg van jou foon. “’n Skermblaaskans is ’n belegging in jou gesondheid én gemoedstoestand. Selfs al gebruik jy jou foon vir ‘ontspanning’ of ‘ontvlugting’, gebruik dié tyd sinvol. Pleks van sosiale media, lees ’n dagstukkie vroegoggend of luister ’n liedjie wat jou in die regte luim vir die dag sit.”

C – Beheer (control)

Stel vir jouself riglyne oor skermgebruik, soos vaste kantoorure, en hou daarby. Verander jou gedrag en vorm nuwe, gesonde(r) gewoontes. Bou en koester persoonlike verhoudings en sosiale interaksie. Vir babas en jong kinders is storievertelling, liedjies, rympies en beurtspel saam met ouers en versorgers ongelooflik belangrik. 

Tegnologie en tieners: Gebruik dit tot jou voordeel

“Net soos ons rentmeesters op aarde is, net so moet ons leer om tegnologie tot ons voordeel te gebruik. Dit moet vír ons werk, nie andersom nie,” sê Elmari. Die gebruik van digitale leerervarings kan nooit boeke, eksperimentele leer, speel, praktiese handewerk en skryf vervang nie.

“Dit moet aanvullend tot mekaar benut word om belangstelling te hou én diepteleer moontlik te maak. Dit geld vir skool, tersiêre opleiding asook die werksomgewing. Uiteindelik is dit ’n kwessie van balans. Net soos ’n gebalanseerde dieet. Daar is ruimte vir sjokolade én slaai. Aan die een kant is matigheid, slim keuses en betyds rem trap, en aan die ander kant hou jy die skaal en jou klere dop om seker te maak dinge is in ewewig!”

Lees ook ons artikel oor hoe skermtyd kinders se ontwikkeling beïnvloed.

If you Have Any Questions Email Us hello@technolifewise.org

Select your currency
ZAR South African rand