Die invloed van sosiale media op kinders en tieners

Bron: https://lig.co.za/die-invloed-van-sosiale-media-op-kinders-en-tieners/

Die invloed van sosiale media op kinders en tieners

Gelukkig is dit nie net slegte nuus nie: Die invloed van sosiale media op kinders en tieners het sy nadele, maar het ook voordele. 

In hierdie artikel kyk ons na die impak en invloed van sosiale media op kinders en tieners. Ons deel ook raad om skermtyd vir kinders beter te beheer.

Benodig jy hulp met die beheer van skermtyd in jou huis?

Digitale welstandafrigter, radiografis, neuro-opvoedkundige, en stigter en bestuurshoof van Mindunique Education en TechnoLife Wise Foundation, Dr Marlena Kruger is passievol daaroor om bewustheid onder ouers en onderwysers te skep en ook om hulle toe te rus om gesonde, gebalanseerde lewens te leef. Sy is ‘n voorstander van digitale welstand en is die dryfveer agter die ‘Wag tot Graad 8’-veldtog en ‘Neuro Heroes’-program.

Die veldtog werp lig op die volgende lewensbelangrike vrae:

  • Wil jy jou kind se skermtyd en toegang tot die internet en sosiale media beperk?
  • Het jou kind ‘n digitale vas nodig?
  • Weet jy hoe om jou kind se brein en liggaam te herstel?
  • Het jy hulp nodig?

Dr Marlena Kruger kan gekontak word per e-pos: hello@technolifewise.org of besoek gerus die TechnoLife Wise Foundation webwerf vir verdere hulpbronne.

Wat sê studies oor die invloed van sosiale media

Daar is twee beduidende denkskole: díe wat glo dat sosiale media kan lei tot angstigheid, depressie en eensaamheid by kinders en tieners. En díe wat weer bevind het dat wanneer tieners depressief is, hulle juis meer tyd op sosiale media spandeer. In ‘n studie van 600 jongmense het navorsers bevind dat simptome van depressie nie noodwendig gaan opduik omdat jongmense sosiale media verbruik nie. Maar dat groot simptome van depressie by veral jong meisies teenwoordig is, dit voorspel dat hulle meer gereeld op sosiale media sal wees.

Maar sosiale media is nie noodwending jou kind of tiener se grootste struikelblok nie. Inteendeel, vir baie jongmense word sosiale media ‘n plek van aanvaarding, ‘n plek waar hulle gesien en gehoor voel. In ‘n verslag van Pew Research het 81% van tieners tussen die ouderdom van 13 tot 17 getoon dat sosiale media hulle meer verbind (oftewel ‘connected’) laat voel met wat in hulle vriende en familie se lewe aangaan. Daarby het tweederdes gesê dat sosiale media-platforms hulle laat voel dat daar mense in hulle lewe is wat hulle in moeilike tye sal bystaan.

Die kliniese sielkundige Dr Hugo Theron het sy PhD-navorsing oor die gebruik van sosiale media en die impak daarvan op tieners, voltooi. Hy deel die volgende: “Ek dink ‘gevare’ ís een van die woorde wat korrek is om te gebruik, want daar ís gevare. Maar sosiale media-gebruik deur tieners kan ook wonderlik wees, opbouend, stimulerend, ’n uitdaging, ’n realiteit … en al hierdie woorde spreek tot ’n sekere aspek van die wisselwerking tussen sosiale media en tieners.”

Die positiewe invloed van sosiale media op kinders en tieners

Volgens die Common Sense Census van 2022, wat die effek van sosiale media op kinders en tieners bestudeer het, het 50% van die respondente getoon dat sosiale media baie belangrik vir hulle is op die volgende gebiede:

  •  om raad en advies te bekom
  • om minder alleen te voel
  • om hulleself kreatief uit te druk
  • om in kontak  met vriende en familie te bly. 

Van hierdie respondente het 43% getoon dat sosiale media hulle juis beter laat voel wanneer hulle depressief, gestres of angstig is.

“Dit help met die versterking van reeds gevormde verhoudings en vriendskappe, wat weer verder ’n gevoel van sosiale ondersteuning kan uitbou en interpersoonlike konneksie kan verstewig en bestendig maak,” sê Dr Theron. 

“Dit bied oneindige opsies met betrekking tot inligting en verkenning van die wonderlike wêreld waarin ons leef, wat weer positiewe implikasies vir akademiese aktiwiteite inhou. Dit kan met matige gebruik ’n kind se selfvertroue verbeter tydens adolessensie. Die opsies vir kreatiwiteit is legio. En natuurlik is dit vir die tiener met spesifieke leer- en siekte-uitdagings ’n wonderlike hulpmiddel om so normaal as moontlike te leef.”

Die negatiewe invloed van sosiale media op kinders en tieners

Kenners waarsku ook dat daar ‘n sterk verband is tussen sosiale media en depressiewe gedagtes by tieners. Volgens ‘n artikel van Newport Academy is jongmense met matige tot ernstige depressiesimptome twee keer meer geneig om sosiale media amper konstant te gebruik. Dit is in vergelyking met 18% jongmense wat konstant sosiale media verbruik, maar nie depressiewe simptome ervaar nie. 

Verder is bewys dat hoe meer drasties hulle depressiesimptome is, hoe meer angstig, alleen en depressief voel hulle ná die gebruik van sosiale media. Dit is duidelik dat sosiale media nie ‘n goeie invloed op kinders of tieners het wat reeds sukkel met depressiesimptome nie en dat sosiale media wel bydra tot hulle negatiewe uitkyk.

Die sielkundige uitwerking van sosiale media

Oor die laaste dekade is daar heelwat navorsing gedoen oor die verband tussen kinders en tieners se sosiale media-gebruik en hulle geestesgesondheid. Kenners is dit eens dat die konstante oorstimulasie van sosiale platforms die senuweestelsel verander tot ‘n veg-of-vlug toestand. Dit kan veroorsaak dat versteurings soos aandagafleibaarheid en tienerdepressie en -angs vererger.

Kliniese maatskaplike werker van Huntsman Mental Health Institute, Jessica Holzbauer verduidelik hoe die ontwerp van slimfone juis van so ‘n aard is dat dit verslawing aanwakker: “Elke keer wanneer ons ons slimfoon optel of inteken op sosiale media, stel ons brein dopamien vry. Sosiale media toepassings is dus eintlik besig om die brein te leer om te glo dat jy jouself beloon elke keer wat jy jou toestel optel.”

‘n Studie deur navorsers van die universiteitskollege in Londen het bevind dat 27% van tieners wat gereeld op sosiale media is, hoë sielkundige stres toon. Die studie het verder die volgende drie primêre faktore geïdentifiseer wat die impak van sosiale media op tieners dryf:

  • Onvoldoende slaap: tieners bly wakker tot laat om deur sosiale media te blaai en blaai en blaai …
  • Blootstelling aan kuberboelies: wanneer skadelike, vals of privaat inhoud op sosiale media gedeel word.
  • Gebrek aan fisiese aktiwiteit: te veel skermtyd en te min beweging is sleg vir kinders en tieners se ontwikkeling en gesondheid. 

Feite uit navorsing: negatiewe invloed van sosiale media

Dr Theron beaam dit: “Die mees negatiewe feite wat uit navorsing te voorskyn kom, is: die impak op slaap (beide kwaliteit en kwantiteit) – wat dan weer ’n verdere negatiewe gevolg het vir die kind se gemoed, emosionele regulering, konsentrasie en geheue; die impak op algemene gesondheid as gevolg van ’n baie minder aktiewe leefstyl; die impak op ’n ontwikkelende kind se siening van hom- of haarself (as gevolg van ’n oordrewe fokus op wat ander van my gaan dink, of ek inpas, en of ek die regte goed doen of sê); te min tyd vir ‘verveeld’ wees of tegnologievrye tyd – wat beide nodig is vir dieper breinfunksie, wat weer verband hou met oorspronklike, kreatiewe denke en aspekte van empatie.”

Hoe beheer jy die invloed van sosiale media?

Beheer skermtyd en verminder sosiale media-gebruik

Volgens die artikel, Limiting Social Media Use Boosts Mental Health, het ‘n studie bewys dat diegene wat hulle sosiale media-verbruik tot 30 minute per dag beperk, ‘n beduidende vermindering in angs, depressie, eensaamheid, en die vrees om uit te mis toon.

Beheer skermtyd met hierdie wenke:

  1. Wees realisties en begin met klein bereikbare doelwitte vir die hele gesin. Betrek al die lede van die gesin en verduidelik wat die doel daarmee is. Baie toestelle het ook ‘n funksie om die tyd van gebruik te beheer.
  2. Kies selfoonvrye sones waar geen toestelle toegelaat word. 
  3. Kies ook skermvrye-tyd wanneer geen skermtyd toegelaat word. Pak dan al die toestelle weg sodat dit nie jou of jou kinders se aandag aflei nie. 
  4. Besluit saam as gesin wanneer selfone, tablette en skootrekenaars toegemaak word om kwaliteit tyd saam met mekaar deur te bring sonder enige onderbrekings. Aandete of stiltetyd in die oggend kan byvoorbeeld goed werk.
  5. Raak aktief. Wanneer selfone weggepak word, is die hande vry vir oefening en speel. Stap in die natuur of laat die kinders buite hardloop. Die gesondheidsvoordele is voor die hand liggend, en kos nie ‘n sent nie. Los die toestelle in die huis en geniet die kosbare oomblikke saam met jou mense.

If you Have Any Questions Email Us hello@technolifewise.org

Select your currency
USD United States (US) dollar