Die impak van sosiale media: Hoe beïnvloed dit jou kind se geloofslewe?

bron: https://lig.co.za/impak-van-sosiale-media-op-tieners/

Die impak van sosiale media op tieners

Baie ouers wonder oor die impak van sosiale media op tieners: is dit net negatief of kan daar iets positiefs spruit? Watter invloed het sosiale media op tieners se geloofslewe? En hoe help ons hulle om hulself in hierdie wonderlike, maar ook gevaarlike wêreld te handhaaf? 

Sosiale media is vervleg in ons en ons kinders se lewe. Ons stuur boodskappe op Whatsapp, ons hou kontak met familie en vriende op Facebook. Ons kyk na videos op Youtube en gly deur die inhoud op Instagram. Ons spandeer baie tyd op hierdie platforms, maar hoe doen ons dit op ‘n Bybelse manier?

Wat is sosiale media?

“Hoewel sosiale media en sosiale netwerke dikwels as sinonieme gebruik word, is daar tog klein verskille tussen hierdie twee begrippe,”  verduidelik Dawid Brand, ‘n joernalis by Weet. “Sosiale media se doel is hoofsaaklik om, soos tradisionele media, inligting te versprei. Met sosiale media het jy egter ‘n toestel soos ‘n rekenaar, slimfoon of tabletrekenaar met internettoegang nodig om hierdie inligting te bekom. 

“‘n Sosiale netwerk is die skep en instandhouding van persoonlike en sakeverhoudings – veral aanlyn. Sosiale media word gedeel op verskillende sosiale netwerke wat bestaan uit ‘n groep mense wat miskien dieselfde belangstellings het of aan mekaar verbind is as familie, vriende of kinders wat in dieselfde skool is. 

“Soos mense vriendskapversoeke (in Engels: friend requests) stuur, word al hoe meer mense deel van die groep (die netwerk). ‘n Aanlyn netwerk kan net geskep word as daar ‘n webtuiste op die internet vir hierdie groepe bestaan. Hierdie ‘plekke’ vir sosiale netwerke word aanlyn platforms genoem. Voorbeelde van hierdie platforms is Facebook, Instagram of TikTok.”

Die negatiewe impak van sosiale media op tieners se geloofslewe

Hieronder is 6 nadelige gevolge van die impak van sosiale media op tieners, veral wat ons geloofslewe betref, en Bybelse beginsels wat ons in gedagte kan hou. Lees ook ons artikel, Die impak van sosiale media op tieners.

#1 Vergelyking

Ons vergelyk onsself met ander, en dan ook maar net die mooi en opwindende deel van ander se lewe soos wat hulle dit op sosiale media plaas. Dít wat ons op sosiale media sien is net ‘n klein gedeelte van die groter prentjie. Natuurlik gaan ander se lewe na meer pret lyk, meer glansryk wees of mooier as jou eie lewe voel. 

Dit is nie ‘n regverdige vergelyking om jou eie lewe met iemand anders se aanlyn lewe te vergelyk nie. Sosiale media gee nie die volle lewe weer nie, en ons moet ons tieners gereeld hieraan herinner.

Die Bybel stel dit ook duidelik dat ons nie onsself met ander moet vergelyk nie. (vlg. 2 Korintiërs 10:12)

#2 Jaloesie en afguns

As ouer kan jy jou kind begelei om te ontdek dat sy waardevol is in God se oë. Wanneer ‘n persoon weet dat God hom lief het, en dat hy ‘n kosbare, unieke mens is, raak dit moeiliker om afgunstig te raak.

Sosiale media en die ongesonde vergelyking wat dit outomaties bring, kan tieners maklik in ‘n greep van jaloesie vasvang. Die Bybel stel dit duidelik dat jaloesie uitloop op ‘n bakleiery en rusie, maar dat God aan nederiges genade bewys en hoogmoediges teëstaan. (Jakobus 4:1-6)

#3 Swak tydsbestuur en verslawing

Sosiale media is verslawend – dieselfde prosesse gebeur in jou brein wanneer jy sosiale media gebruik as wanneer jy ‘n verdowingsmiddel gebruik. Dit is dus nie maklik om selfdissipline toe te pas wanneer jy sosiale media gebruik nie, en daarom spandeer tieners dikwels baie meer tyd daaraan as wat hulle sou wou. Dis boonop ure van sinnelose, passiewe verbruik wat tieners uiteindelik laat sleg voel oor hulleself.

Daarom is dit juis belangrik dat ouers vir tieners help met hulle tydsbestuur – veral die hoeveelheid tyd wat hulle aan sosiale media bestee.

Stiltetyd met God en Bybelstudie vra dikwels opoffering en selfdissipline, maar dit lei tot ‘n gesonde, vreugdevolle lewe. Ons as ouers kan vir tieners ‘n voorbeeld hierin wees. En laat Efesiërs 5:15-16 ‘n aanmoediging wees: “Wees baie versigtig hoe julle lewe: nie soos onverstandige mense nie, maar soos verstandiges. Maak die beste gebruik van elke geleentheid, want ons lewe in ‘n goddelose tyd.”

#4 Immorele gedrag 

Sosiale media is die perfekte plek om mense van die teenoorgestelde geslag te ontmoet, en geselsies aan te knoop. Dit is egter ‘n gevaarlike plek waar ‘n wolf in skaapklere gesprekke kan uitlok waaraan tieners nie sommer in die “regte wêreld” sou deelneem nie.

Die versoeking kan baie groot wees vir tieners, wat in elk geval nuuskierig is oor seks en seksualiteit, om in onvanpaste gesprekke betrokke te raak. Die impak van sosiale media op tieners se besluite kan hulle maklik in die verkeerde rigting stuur.

Dit is belangrik vir ouers om met tieners oor hierdie moontlike gevaarlike interaksies te praat, en hulle aan te moedig met Bybelse woorde: “Soos dit gelowiges betaam, moet daar van ontug, onsedelikheid in enige vorm, of gierigheid onder julle selfs geen sprake wees nie. Growwe, ligsinnige of vuil praatjies pas nie by julle nie; nee, dank aan God pas by julle.” (Efesiërs 5:3-4)

#5 Blootstelling aan onbybelse leerstellings en invloede

“Moet julle nie langer laat mislei nie: Slegte geselskap bederf goeie sedes.” (1 Korintiërs 15:33) Alhoewel daar wonderlike Christelike inhoud op sosiale media is, is daar net soveel inhoud wat ons Christelike geloof skade aandoen of bloot God se bestaan en sy liefdevolle karakter misken.

Enige persoon kan inhoud op sosiale media deel en soos ‘n ware teoloog klink of lyk. Dit is egter vir tieners belangrik om die onderskeidingsvermoë te hê om te weet wat waar en vals is. Hiervoor is goeie kennis van die Bybel en ‘n lewende verhouding met God nodig. En natuurlik ‘n ouer met wie die tiener kan gesels oor geloofsvrae.

#6 ‘n Selfgesentreerde uitkyk

Navorsing het bevind dat mense oor die algemeen ongeveer 30 – 40% van die tyd oor hulleself praat. Op sosiale media platforms praat mense egter 80% van die tyd oor hulleself.

Selfgesentreerdheid en selfsug is nie wat God van ons verwag nie. “Julle moenie net elkeen aan sy eie belange dink nie, maar ook aan dié van ander” (Filippense 2:4)

Die impak van sosiale media: Die voordele vir ‘n tiener se geloofslewe

Alhoewel daar gevare en slegte invloede op sosiale media is, is daar gelukkig ook voordele daaraan om sosiale media te gebruik. Veral vir tieners wat graag hulle Christelike geloof wil uitleef.

Hier is 3 maniere waarop tieners hulle geloof op sosiale media kan uitleef:

  1. Tieners kan deel voel van ‘n gemeenskap. Dit gee tieners die geleentheid om met ander gelowiges te gesels. Dit kan ‘n gevoel meebring dat hulle iewers hoort en nodige ondersteuning kry. Veral vir diegene wat geïsoleerd voel in hulle eie omgewing.
  2. Sosiale media kan tieners leer en laat groei. Daar is ‘n magdom hulpbronne vir geestelike groei: inspirerende inhoud, Bybelstudies en selfs Christelike beïnvloeders (in Engels: influencers) kan tieners op hulle geloofsreis inspireer. 
  3. Tieners kan hulle geloof deel. Hulle kan hul eie platform gebruik om Bybelverse te deel, persoonlike getuienisse te vertel of boodskappe van hoop te plaas wat ander weer op hulle geloofsreis kan inspireer.

Riglyne vir ouers van tieners wat sosiale media verbruik

Focus on the Family, ‘n organisasie wat hulle vir gesonde, Christelike familiewaardes beywer, het ‘n 3-punt plan vir ouers opgestel om te help om die wêreld van sosiale media te bestuur.

  1. Leer jou kind die waarde van ‘n goeie reputasie. Spreuke 22:1 herinner ons hieraan: “’n Goeie naam is meer werd as groot rykdom.”
  2. Wees betrokke by jou kind se internetgebruik. Gesels gedurig met jou kind oor die gevolge van sy “posts” of watter gevare daar kan wees wanneer jou kind aanlyn is. Ouers moet ook prakties wees en gesonde grense stel vir skermtyd. Oorweeg dit om filters te installeer wat ongure inhoud blokkeer. Begin van ‘n vroeë ouderdom praat oor onderskeidingsvermoë. Ouers moet ook weet watter netwerke hul kind gebruik, en dat hulle selfs die wagwoorde mag weet van veral jonger tieners se sosiale media.
  3. Bid gedurig vir jou kind se geestelike lewe. Dít wat jou kind op sosiale media plaas is ‘n uitdrukking van wat in sy hart aangaan. Jou kind sal die vrug van die Gees – liefde, goedhartigheid, selfbeheersing, ensovoorts – uitleef waneer sy ‘n lewende verhouding met Jesus Christus het.

In alles wat ons doen, moet Christenouers kinders en tieners aanmoedig om Christus in hulle gedrag uit te leef (Efesiërs 5:1). Ons doel is nie net om ons kinders te waarsku teen die gevare van sosiale media en hoe om die impak daarvan te bestuur nie, maar ons doel is ook om hulle te begelei om Jesusvolgelinge te wees in ‘n bose en ontaarde wêreld. Ons wil hulle aanmoedig om alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is te omarm, uit te leef en op te soek – in die “regte wêreld” en aanlyn.

If you Have Any Questions Email Us hello@technolifewise.org

Select your currency
ZAR South African rand