Só help jy jou kind om die wêreld van kunsmatige intelligensie (KI) te navigeer

Bron: https://lig.co.za/jou-kind-en-kunsmatige-intelligensie/

Jou kind en kunsmatige intelligensie

Ons lees en hoor dit oral: kunsmatige intelligensie (KI) is hier om te bly. En of jy dit omhels of vermy, KI word toenemend deel van ons hedendaagse wêreld en ‘n realiteit waarmee elke lid van die gesin daagliks te doen kry. Hoe gemaak om jou kind touwys te maak met hierdie vreemde tog werklike onderwerp?

In hierdie artikel ondersoek ons die impak van kunsmatige intelligensie op ons kinders en hulle leerproses. Ons gee raad oor hoe om dit as ‘n gesin aan te pak.

Jou kind en kunsmatige intelligensie

KI-stelsels soos die geselsbot ChatGPT en die fotogenereerder Midjourney word al hoe meer gewild. Tegnologie word ingespan om industrieë – van die mediese veld tot die onderwys – te verbeter en aan te vul. In 2022 het Microsoft se medestiger Bill Gates voorspel dat geselsbots teen einde 2024 so gevorderd sal wees dat dit “net so ‘n goeie tutor as enige mens sal wees”, veral met vaardighede soos lees en skryf.

Dis ‘n swaar pil om te sluk, maar kenners meen dat KI nie die rol van byvoorbeeld onderwysers heeltemal sal vervang nie. Diegene wat KI omhels staan wel heel moontlik ‘n groter kans om te oorleef in hulle beroep. Dit geld alle industrieë. Want diegene wat KI as ‘n hulpbron effektief inspan en gebruik om hulle werk of diens aan te vul, sal klaarblyklik in die moderne wêreld oorleef en floreer.

Wat is kunsmatige intelligensie: Hoe verduidelik jy dit aan jou kind?

KI hoef nie gevrees of vermy te word nie, maar soos met alle aanlyn aktiwiteite moet dit verantwoordelik en met omsigtigheid hanteer word. Die eenvoudige antwoord is dat KI bloot die vermoë van rekenaars is om te dink en te leer. 

Met KI kan rekenaars take uitvoer wat tipies deur mense gedoen word, insluitend die verwerking van taal, probleemoplossing en om konstant te leer en te verbeter. KI is dus ‘n hulpmiddel, soos vele ander tegnologieë.

Hou jou gesin van fliekkyk op Netflix of Showmax? Julle het moontlik al opgelet dat die sisteem vir julle films aanbeveel gebaseer op die tipe films wat julle reeds gekyk het. Dit is KI wat daardie tipe aanbevelings moontlik maak, weens die vinnige manier waarop die “brein” van daardie program jou data analiseer en konstant die algoritme opdateer.

Hier is ‘n oulike video wat KI vir kinders verduidelik: “An Introduction to Artificial Intelligence for Kids.

Jou kind en kunsmatige intelligensie: Hoekom het jou kind leiding nodig?

“Dit is duidelik dat KI ‘n lang pad het om te stap in terme van akkuraatheid,” meen Dr Tovah Klein, ‘n kindersielkundige en skrywer van die boek How Toddlers Thrive. Sy is ook direkteur van die Barnard kollegesentrum vir kleuterontwikkeling. 

“Betrokkenheid van volwassenes by jonger kinders, veral voorskoolse en laerskoolkinders, is van uiterste belang om die digitale wêreld te navigeer. Wat nog te sê van ‘n digitale wêreld waar vals, onakkurate en skadelike inligting versprei word.”

Ons kyk na die nadele en voordele van kunsmatige intelligensie hier onder.

Probleemareas van kunsmatige intelligensie: Onakkurate data

Selfs KI-sisteme wat ontwikkel is om tot op die vlak van menslike intelligensie te funksioneer, het die geneigdheid om onakkurate inligting te verskaf. Jong skoolgaande kinders is baie meer geneig as volwassenes om inligting van ‘n outoritêre figuur te aanvaar as feit en dit nie te bevraagteken nie, verduidelik Klein.

“Dis juis daarom dat die teenwoordigheid van ‘n volwasse persoon, ‘n onderwyser of ‘n ouer, so belangrik is. Om kinders te help om kritiese denkvaardighede te ontwikkel en nie net inligting as die waarheid te aanvaar nie.

“Selfs sonder die bekommernis oor foutiewe data, moet jy steeds toesig hou oor jou kind se KI-sessies vir die eenvoudige rede dat jy konteks en nuanse beter as ‘n masjien verstaan. Kinders moet byvoorbeeld die individuele stappe verstaan om ‘n wiskundesom op te los, eerder as om die antwoord by ‘n masjien te soek wat onakkuraat of foutief kan wees.”

Probleemareas van kunsmatige intelligensie: ‘n Ongesonde hoeveelheid skermtyd

Hoe meer tyd kinders met KI en voor die skerm spandeer, hoe minder tyd spandeer hulle in persoon met hulle medemens, of dit nou maatjies of gesinslede is. 

Oor die laaste dekade is daar heelwat navorsing gedoen oor die verband tussen kinders en tieners se sosiale media-gebruik en hulle geestesgesondheid. Lees ook ons artikel oor die impak van sosiale media op kinders en tieners.

“Interaksie met mense is baie belangrik vir kinders: dis hoe hulle leer om met ander te skakel en hoe om mense te ‘lees’. Wanneer ‘n onderwyseres byvoorbeeld vriendelik en bemoedigend oorkom, selfs wanneer die kind sukkel, kan daardie tipe terugvoer baie waardevol vir ‘n kind wees ,” meen Klein.

Die moontlikhede van kunsmatige intelligensie in die onderwys

‘n 2023-verslag van die department van onderwys in die VSA het getoon dat opvoedkundiges KI-hulpbronne aktief inspan om hulle leermetodes aan te vul. Hulle gebruik veral toepassings wat spraakherkenning ondersteun om studente met gestremdhede te ondersteun en leerders in verskeie tale by te staan. Sodoende bied hulle ‘n meer persoonlike leerervaring. Dan gebruik hulle ook KI-toepassings om lesse te verbeter, en om materiaal aan te pas vir interaktiewe klasse. 

In die artikel “Die impak van kunsmatige intelligensie op die onderwys”, verduidelik DJ Cloete, ‘n dosent in Afrikaans, Afrikaansonderwys en Afrikaans as taal van onderrig en leer by Akademia, dat daar baie maniere is waarop onderwysers en KI kan saamwerk om die risiko’s te verminder en die voordele van kunsmatige intelligensie in die onderwys ten volle te benut.

Hy verduidelik dat KI kan help om die individuele behoeftes van leerders te identifiseer en dus kan leerplanne daarvolgens opgestel word. Dit kan ook intydse terugvoer gee oor die prestasie van die leerder, wat onderwysers in staat stel om probleemareas betyds te identifiseer. Dit is ook ‘n handige hulpbron vir alledaagse administratiewe take.

Hier is wenke om kunsmatige intelligensie te navigeer

  1. Leer saam en probeer saam: Jy kan saam met jou kinders leer oor KI en ontdek watter toepassings vir julle as ‘n gesin waardevol sal wees.
  2. Praat oor die gevare, oor onakkurate inligting, plagiaat en kroekery. En die implikasies daarvan.
  3. Gesels ook met jou kind se skool en onderwysers om uit te vind wat die beleid is, en hoe jy as ouer jou kind kan bystaan en ondersteun.
  4. Neem leiding en stel nuwe tegnologie voor. Jy verbaas dalk net jouself en jou kinders met hoe vooruitdenkend jy is.

If you Have Any Questions Email Us hello@technolifewise.org

Select your currency
ZAR South African rand